Blog
Vierde Sondag in Advent
Vierde Sondag in Advent
Lukas 1:39-45
Die vierde Sondag in Advent word gekenmerk deur liefde. Dit is egter nie met die eerste oogopslag duidelik hoe hierdie tekste met liefde verband hou nie. Tog, sodra ons dieper lees, sien ons dit duidelik: Dit is dáárdie Liefde wat deur al die eeue en aan die ganse skepping - maar veral en eerste aan die geringstes - liefde en trou betoon. As ons dit só sien, is die lang storie wat hier vertel word - van die Here se beloftes in Miga tot by opgewondenheid oor Christus se koms in Lukas - 'n liefdesmanifes. Dit getuig van God se aktiewe liefde wat vír God se skepping kies.
Die hoop op God se herstel en die liefdevolle ingryping waarvan Miga getuig, weerklink die ewigheid in. In Lukas 1:39-45 hoor ons dan hoe Johannes die Doper reeds voor sy geboorte begin ritsel van opgewondenheid oor die koms van Christus. Nie net Johan-nes nie, maar ook sy ma, Elisabet. Nie net hulle nie, maar dan ook Maria en Sagaria. Die vierde Sondag in Advent word op dié manier 'n geleentheid om, saam met hierdie stemme, die eeue oue liefdeslied te sing! Nie net op Sondag in die kerk nie (hoewel dit móét gebeur), maar ook in en met ons hele lewe.
Steeds is alles nog nie gesê nie. Hierdie liefdeslied - wat mooi in die preekstudie ver-duidelik word - is nie maar 'n soetsappige liefdeslied wat gemaklik op almal se ore val nie. Dit is ook 'n proteslied: Dit skreeu teen alle vorme van liefdeloosheid en dit waag om oor 'n nuwe, liefdevolle toekoms te droom. Dit kom vanuit plekke waar ons dit die minste verwag. Só het dit weerklink by Miga, Elisabet, Maria, Sagaria en Johannes die Doper. Só kan ons ook sing: liefde teen liefde.In die woorde van Adam Small: "Kô, lat ons sing!"